#VADERSDAG: Pa-wees lyk nie maklik nie…

Pa-wees is nie maklik nie. Maar dit bring ure en jare se vreugde. Maak hom spesiaal voel vandag.

Vandag is Vadersdag.

Ek is nie ‘n pa nie, en sal ook nooit ‘n oupa wees nie.

Ek is wel ‘n oom, vir my suster se kinders wat wel ‘n pa het, o, en natuurlik ‘n oupa. My pa.

Ek kan myself nie indink hoe dit moet wees om pa te wees nie. Maar ek kan sien, dat dit nie ‘n maklike taak is nie. Sien, ek voel nie soos ‘n pa nie.

Want ek voel 18, al is ek amper 42. Meeste van my vriende van skool se dae af is pa. Hulle kinders is al in die hoërskool. Dit voel nie reg nie. Ons is dan ook maar net nog kinders.

Of so voel dit. Moet so voel,  want groot word is nie lekker nie, en oud word ook nie.

Want met grootword kom groot verantwoordelikhede. En dan moet jy kan pa staan. Vir jou kind se opvoeding, soos jou pa se pa jou pa groot gemaak het.

Om man te wees.

En as almal kan pa staan soos my pa, dan is elke pa, die naam pa werd.

Op net anderkant 60, is hy soms nog ‘kind’. Daar is mos daardie gesegde wat lui, ‘Mans word nie groot nie, net oud.’

En met grysheid kom wysheid, al is van die haartjies soms nog laf.

Dis daardie wysheid van jare, en moet-nie -dieselfde-foute-wat ek-gemaak-het-nie afgedwing word.

Hoe troos ‘n pa ‘n seun wat huil, as hy self breek langs ma, sy vrou se graf?

Hoe raas jy as jy weet jy het dieselfde foute gemaak op sy ouderdom?

Hoe sê jy “Gaan maar op die toer” maar jy weet voor jou siel, jy weet nie waar die volgende sent vandaan kom nie.

Hoe sê jy vir jou seun, moet nie bekommer nie, daar is baie visse in die see, maar dalk diep binne dra hy dalk nog die grootste seer van sy groot liefde wat weggeloop het saam sy beste vriend.

Hoe staan jy trots op in ‘n saal en klap hande vir sy redenaars praatjie, maar sou eerder langs die rugbyveld wou staan en tussen die tande fluit vir daardie prag drie nie?

Hoe sê jy trots, ‘dit maak nie saak wat ander mense van jou dink nie, jy bly my kind? My kind! Eienaarskap! Vlees en bloed.

Ek kan myself ook nie indink hoe ‘n pa langs die graf van sy eie seun moet staan nie. Sien, ek ken ook oom’s wat pa’s is.

Ooms my pa se ouderdom.

Hoe sing mens die oorwinningslied met oortuiging sonder woede dat jou jongste seun weggeskeur is?

Ek ken van grafstaan. Nigies en tannies my ma en ouma.

Maar ek weet nie hoe mens jou kind begrawe nie.

Ek weet ek sal dalk my pa moet begrawe. Dalk sal my pa uitgespaar bly, en my moet begrawe.

Hoe dit ook al sy.

Die band van pa en kind, is anderste stofasie as die van ma en kind.

Dalk bietjie growwer en rowwer. Maar deur daardie growwer meelsteen grootword jare, weet jy blink jy en is jy in sy oë sy geslypte diamant. Al wys die krake. Al is jy nie karaat werd nie, maak dit nie saak nie.

Want jy is sy kind. Hy het jou grootgemaak, soos sy pa hom groot gemaak het.

Dalk bietjie stouter, dalk bietjie wyser. Dalk miskien eerder op sy unieke manier hoe hy sou wou wees.

So berus daarby.

En as jou bietjie grys nou soos syne ‘Silver de Lange’ begin speel en die haarlyn soos ‘n gety golf terug trek.

Sê dankie.

En terwyl jy dit doen, so in dieselfde asem, sê dit sommer vir al die pa’s wat pa staan soos hulle pa’s.

Want ek is seker elke pa is die naam pa werd.

Al voel dit nie altyd so nie. Dit bly jou pa.

Al is hy nie meer daar nie.

En as jy pa is, en jou kind is nie daar nie…hulle staan iewers en salueer jou.

Gelukkige Vadersdag.

Lees: Tech Thursday: 5 awesome apps for dad

 

  AUTHOR
Bertus de Bruyn
news editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
TZANEEN: Help soek na Joan Nel