#KnysnaFire: Ek stuur vir jou ‘n blikkie KOO saam met ‘n briefie…

Liewe onbekende

Ek stuur vir jou ‘n briefie en ‘n blikkie Koo Baked Beans. DHL het hom Woensdagmiddag 14 Junie  hier in Tzaneen kom haal.

Dit was skuins na 16:00.

In die warboel van help oplaai het ek die blikkie, na ek bly kerm het by die RAM bussiebestuurder, Eric Mabunda, om asseblief seker te maak dat die blikkie in Knysna uitkom, op die lessenaar in die kantoor vergeet.

(DHL se geel 1400 bakkie was net te klein vir die Tzaneen inwoners se ruim skenkings, ons klomp hier in Tzaneen glo in gaan groot of gaan huis toe. En ons het groot gegaan, en alles is oppad daarna julle toe.)

 

“Only the best will do”

Ek het later verneem dat Eric spesiaal omgedraai het, nadat my vriendin, Melissa Strydom van die  Tzaneen Cancer Care Group hom geskakel het en gevra het om om te draai, want hy het die ‘Special- Package’ vergeet.

Eric Mabunda, Melissa Strydom met jou blikkie KOO en ek.

Ek hoor die blikkie het ‘n ere passasiers sitplek gekry.

Ge-eerde blikkie! Vas ge-veiligheidsgordel nogals.

Van hier na daar se reis. Lang tog. Na jou toe. Net vir jou.

Eric Mabunda wat spesiaal omgedraai het vir die blikkie Bakedbeans.

Ek het ‘n briefie bygesit in ‘n groot bruin A4 koevert.

Hy is ge-adresseer. Sommer net met #BlikkieVirJou, en hy is geseel en geplak met liefde en omgee.

Sommer so rof weg ge-kleefband. Die deurskynende breë tipe, jy sal hom nie kan mis kyk nie.

Binne in die koevert is ‘n briefie. Met my selfoon-nommer.

Ek sit nou hier, bo in die Noorde en die koue knibbel maar.

Die komposisie, Gymnopedie van Erik Satie bevredig my gemoed maar bevooregte ondankbaarheid sak op my neer.

Ek wonder hoe jy/julle lewe weer gaan vas kleefband?

Ek sit terug en probeer jou lewens prentjie vir nou en vorentoe vir myself inkleur, maar die enigste kryt kleur wat ek kry is in mineur.

Hier by my in die sitkamer waar ek sit is die verwarmer aan. Al die aardse besittings staar skuldig na my.

Die 1904 klavier staar die meeste.

Boeke. Baie boeke. Skilderye, meubels, sentimente.

Wat as…

…as ek hier aan die slaap raak waar my skootrekenaar op my skoot skuins voor middernag rus en ‘n kortsluiting ontstaan…

Vlammehel en dan as.

Ek weet nie wat jy alles verloor het nie.

Het jy alles verloor?

Wat wou jy nog red…wat as die vuur die ordentlikheid gehad het en jou meer tyd gegun het…

Maar die natuur is mos maar van nature.

Hy het nie geduldig gewag soos ‘n passasier by ‘n busstop nie…hy het laat loop soos Usain Bolt en hy het gesorg vir ‘n natuurramp rekord. Net so groot soos Lainsburg destyds.

Water toe en vuur nou…ironies.

Was jy ook een van die duisende wat daardie nag hulpeloos moes toekyk hoe alles veras.

Slaap jy warm vanaand? Het jy ten minste al ‘n geskenkte kombers gekry en sit jy dalk met ‘n koppie sopkombuis en wonder waar en wat en hoe nou.

My blikkie Baked Beans is oppad.

Klou maar vas aan die vas gekramde bybelvers aan die briefie as jy hom kry. (As jy hom kry).

Dit is spesiaal vir jou. Al ken ek jou nie.

Nog nie.

Sal ek ooit?

Maak seker nie regtig saak nie. Wat saak maak is die hoop dat jy my blikkie met die briefie kry, vir nou.

Onbekende, om alles te verloor moet voel soos die groet van ‘n geliefde aan die dood.

En daardie ‘voel’  ken ek.

Dis ‘n leegheid wat nooit weer gevul kan word nie. Miskien halfvol.

En halfvol is seker beter as halfleeg.

Of is dit?

So ek stuur maar die blikkie Koo Baked Beans saam met die gekleefdelint koevert met die briefie in aan met die goedgunstelike hulp van DHL.

My blikkie Koo met die briefie aan. Net vir jou.

Ek voel ewe skielik skuldig dat ek nie ietsie meers saamgestuur het nie. Ek sou so graag vir elkeen in nood ‘n trollie vol KOO wou gee.

Van Bloukrans tot Boksburg, van Soweto  en Sandton, Thabanchu tot Mafikeng, Kaapstad tot Chatsworth, Mashu en Makhadu, het Suid Afikaners gewys hulle gee om.

In my kruideniers kas hier in Tzaneen is nog so baie wat ek kon saamstuur…

Ek is jammer. Jammer dat ek nie die soya nuggets en die no name brand passionfruit aanmaak koeldrank ook saam vas ge-kleefband het nie.

As ek net nog een blikkie kon saam stuur, net nog een..

Val my nou by, jy het seker nie eers meer ‘n blik oopmaker nie. En seker ook nie ‘n lepel, mes of vurk nie. Ook nie ‘n bord nie.

Ek is jammer.

Sal jy nou moet,  soos jy op veldskool geleer het, die blikkie moet skuur-skuur op klip, todat vonkies spat.

Die laaste ding wat jy nou sekerlik sal wil sien is enigeiets wat jou herinner aan daardie vlammehel nag.

Ek is jammer as ek nou weer van vooraf jou nagmerrie soos ‘n ongevraagde wind die smeulende- probeer-vergeet laat opvlam, terwyl jy uit die blikkie sal moet eet.

Liewe onbekende…My woorde is maar droë ink op daardie briefie maar hopelik vrugbaar .

Plant my boodskap sade net diep binne in jou hart.

Water die paar letters en woorde maar elke dag met geloof en hoop en kyk anderkant toe so ver oor die see tot doer anderkant.

Die son kom daar op en die son gaan agter julle Knysna berge onder. Die golwe druis in , die getye slaan en elke dag is ‘n trappie-stappie na herstel.

Van weer fondasie gooi, stene lê en fort bou.

Liewe onbekende, die blikkie Koo Baked Beans,  is dan vir eers nou, “only the best will do”

Dit is seker nie die beste nie.

Maar dit was my enigste amper-bitter-einde-van-die-maand blikkie, en dit is die beste wat ek vir jou kon doen.

En ek stuur dit met liefde en omgee!

Groete

Ekke.

PS: Laat weet maar as jy die boodskapblikkie gekry het. Ek het as kind altyd gewonder hoe dit moet wees om ‘n pen pel te hê , dalk word ek en jy dan nou blikkiepelle.

Blikkies, dit sal nou vir jou ‘nice’ wees.

 

 

 

 

  AUTHOR
Bertus de Bruyn
news editor

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Vossie slimkoppe stal uit tydens Tritech-streeksronde